Bridgton RFC in SWD Superliga A Halfeindstryd
Heidelberg se slot, Ivor van der Merwe, het tydens hul wedstryd teen die Barbarians uitgestaan, wat hulle met ‘n telling van 48 – 31 gewen het. Foto: Heinrich Photography
06/09/2024
Dit is Groot-Brakrivier teen Blanco en Heidelberg teen Bridgton in die SWD Superliga A halfeindronde op Saterdag 7 September. Dit is die eerste keer in meer as tien jaar dat Blanco en Bridgton in ‘n halfeindronde speel. Beide spanne se afrigters het bevestig dat hulle gereed is.
Christo du Plessis, hoofafrigter van Blanco, sê: “Die gemeenskap is opgewonde en daar is groot entoesiasme onder die spelers en ondersteuners.”
Eddie Myners, hoofafrigter van Bridgton, voeg by: “Bridgton het 11 jaar gelede laas vir ‘n halfeindstryd gekwalifiseer, so hierdie is ‘n groot geleentheid vir ons. Ons glo dit sal nie hier eindig nie, want ons mik vir die eindstryd.”
Oor die wedstryd teen Groot-Brakrivier sê Du Plessis dat hulle goed voorberei is. In hul laaste ontmoeting het Blanco met ‘n nou telling van 26 – 29 verloor, maar Du Plessis is vol vertroue dat die lesse wat hulle geleer het, in hul guns gaan tel. “In ‘n uitspeelwedstryd is die speelveld gelyk, en vorige prestasies beteken min. Ons span is gemotiveerd om die gemeenskap trots te maak.”
Myners het verder verduidelik dat die wedstryd teen Heidelberg vir Bridgton van groot belang is. “Om Heidelberg op hul tuisveld aan te vat, is altyd uitdagend. Ons benader die wedstryd soos ‘n eindstryd. Ons het goed voorberei en is gereed om ons beste te gee.”
Fernell Pretorius, voorspelerafrigter van Heidelberg, het sy opgewondenheid oor die tuisvoordeel uitgespreek: “Dit is vir ons ‘n voorreg om voor ons ondersteuners te speel. Ons weet dit gaan moeilik wees, maar ons glo dat ons tuisvoordeel in ons guns gaan tel.”
Pretorius het ook genoem dat hulle bewus is van Bridgton se speelstyl. “Bridgton is ‘n span wat teen ‘n hoë tempo speel, en ons berei voor vir daardie uitdaging.”
Ondanks Heidelberg se oorwinnings oor Bridgton vroeër in die liga, is Pretorius van mening dat Saterdag se wedstryd ‘n nuwe geleentheid bied waar enigiets kan gebeur. (Deur Jacques du Toit, George Herald)