Meiringspoort-Halfmarathon Vier 30ste Mylpaal

Meiringspoort-Halfmarathon

Die atlete staan gereed om weg te spring vir die 12,5 km en 21,1 km wedlope. Foto: Verskaf

18/10/2024

Die 30ste Meiringspoort-halfmarathon het op 12 Oktober in De Rust plaasgevind en het weereens atlete van regoor die land gelok.

Vanjaar het 3 377 deelnemers aan die wedloop deelgeneem, waarvan 3 285 suksesvol die eindstreep bereik het. In die 21,1 km-afstand het 1 945 atlete deelgeneem, terwyl 1 340 deelnemers aan die 12,5 km-wedloop deelgeneem het.

Leon Cohen (69), ‘n inwoner van Kaapstad, is die enigste atleet wat al 30 van die Meiringspoort 21,1 km-wedlope voltooi het.

Die wenner van die mansafdeling in die 21,1 km-wedloop was Lloyd Bosman, wat die wedloop in ‘n tyd van 01:00:46 voltooi het en sy eie rekord verbeter het. Bruce Maboza het die 12,5 km-wedloop gewen met ‘n tyd van 00:39:52.

In die vroue-afdeling van die 21,1 km-wedloop was Kaitlyn Wolff die vinnigste, met ‘n tyd van 01:22:43. Micke Jansen van Rensburg het die 12,5 km-wedloop gewen met ‘n tyd van 00:53:18.

Die NG Kerk op De Rust bied elke jaar saam met die marathon ‘n groot basaar aan. Terwyl die atlete besig is met hul wedlope, geniet die gemeenskap ‘n feestelike atmosfeer op die kerkgronde. Vanjaar is vyftig lammers, twee beeste en vyf koedoes geslag en verwerk vir die feesmaal. Altesaam 140 kg maalvleis is gebruik om kerrie en rys, asook jaffels, voor te berei.

Die volgende Meiringspoort-wedlope sal op 11 Oktober volgende jaar plaasvind. (Deur LINDI BRILL, Die Hoorn)

Meiringspoort-Halfmarathon

Die wegspring van die 12,5 km-wedloop. Foto: verskaf.