Nuwe sportinisiatief kort gemeenskap se samewerking
16/06/2022
SPORTTOERISME op Oudtshoorn is een van die grootste dryfvere vir die omgewing se ekonomie, en met groot sportbyeenkomste wat onlangs uit die dorp geskuif is weens die swak onderhoud van sportfasiliteite, wil lede van die sportgemeenskap ’n sportinisiatief op die been bring om Oudtshoorn weer die “sport Mecca” te maak wat dit voorheen was.
’n Handvol van hierdie sportrolspelers en ook verteenwoordigers van toerisme en die besigheidskamer het Dinsdagaand (14 Junie) by die Kleinplaas konferensiesaal bymekaar gekom om te beplan hoe die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI) moet werk, watter struikelblokke daar tans in hul pad staan, en oor hoe om vorentoe te beweeg.
Die belangrikste punt wat uit die vergadering gekom het en waarop almal teenwoordig saamgestem het, is dat die hele sportgemeenskap, toerisme en die sake-sektor sal móét saamwerk om sporttoerisme weer tot sy volle glorie te herstel, en dat die samewerking tussen hierdie verskeie sektore en die Oudtshoorn Munisipaliteit van kardinale belang gaan wees.
Dave van der Walt, bekende in sportkringe en operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, het ’n dringende beroep op enige persoon wat by sport betrokke is – van klubs tot federasies, atlete tot toeskouers, en van sportmanne en -vroue tot borge en besighede – gedoen om deel te raak van die OSI.
“Saam kán ons ’n verskil maak. Sporttoerisme op Oudtshoorn is groter en belangriker as wat inwoners en ander rolspelers besef; dit kan jaarliks miljoene rande vir die dorp se ekonomie beteken. En almal baat daarby, van vulstasies tot gastehuise tot winkels tot die individu wat by een van hierdie instansies werk,” het hy passievol gesê.
Van der Walt het beklemtoon dat alle sportkodes, -klubs, -federasies, borge, besighede en nie-winsgewende organisasies welkom is om deel te raak van die OSI – maak nie saak uit watter gemeenskap nie. “Dit is noodsaaklik dat almal betrokke raak hierby. Ons moet ons ongelooflike sportgeriewe ten bate van die héle dorp gebruik!”
Kontak Van der Walt by 082 773 4901. (Deur Stefan Skapie Goosen)
![Dave van der Walt Dave van der Walt](https://oudtshoornsport.co.za/wp-content/uploads/2023/06/8-Dave-en-Sport.jpg)