Oudtshoorn Rugbyklub oorheers op tuisveld en behaal dubbele oorwinning
Die A-span van Oudtshoorn RFC het ‘n oorwinning behaal teen die Haarlem Swings. Foto: Verskaf
24/08/2024
Oudtshoorn Rugbyklub het verlede Saterdag die Swings van Haarlem gehuisves by die REC in Oudtshoorn vir ‘n SWD Eersteliga B-wedstryd. Beide van hul spanne het uitstekende vertonings gelewer en as oorwinnaars die veld verlaat.
Die A-span het ‘n noue oorwinning van 20-19 behaal. Ruan Tolken het twee drieë aangeteken, terwyl Jean Heunis die skopskoen goed gebruik het met twee suksesvolle doelskoppe en twee strafskoppe. Heunis is ook as speler van die wedstryd aangewys vir sy indrukwekkende bydrae.
Oudtshoorn RFC se B-span het ook oortuigend gewen met ‘n telling van 10-6. Preston Hartnick en Fredrich Koopman het elk ‘n drie gedruk. Manchelin Natan is as die B-span se speler van die wedstryd aangewys.
Op die liga-punteleer staan Oudtshoorn RFC sterk, en dit blyk dat hulle hul semi-finaal op hul tuisveld by die REC in Oudtshoorn sal speel.
In ‘n ander SWD Eersteliga-wedstryd het Spring Roses teen Dysselsdorp te staan gekom. Die A-span van die Roses het Dysselsdorp met 14-11 geklop, terwyl die B-span van die Roses ‘n oorwinning van 17-5 behaal het.
Verlede naweek het die All Blacks se spanne teen die Silver Stars in ‘n SWD Eersteliga A-wedstryd gespeel. Die A-span van die All Blacks het met 34-29 gewen, terwyl die B-span met ‘n telling van 17-13 oorwin het. Die All Blacks se A-span is tans 2de op die SWD Eersteliga A-punteleer met 34 punte, en die B-span staan bo-aan met 47 punte op die B-spanne se punteleer. (Deur Lindi Brill, Die Hoorn)