SA SWEMGALA LOK DUISENDE

SA-SWEMGALA-OUDTSHOORN

Een van die swemmers kloof grasieus deur die water. Foto: Wyndham Ewerts

12/04/2024

Die Vlak 2-kampioenskappe van Swem Suid-Afrika, wat deur Wes-Kaap Swem die afgelope naweek by NA Smit-swembad aangebied is, het duisende toeskouers gelok.

Hierdie kampioenskappe het vir die eerste keer in vier jaar in Oudtshoorn plaasgevind en het ongeveer 400 swemmers vanaf die Wes- en Oos-Kaap gelok.

Volgens een van die organiseerders, Raymond Pollicute, het altesaam 42 swemmers sake uitgespook in die swembad wat in koel en by tye reënerige weerstoestande, oor drie dae vanaf 4 tot 6 April beslis is.

Pollicute sê dat daar by skatting elke dag sowat 1 500 mense by NA-Smit was wat afrigters, swemmers, ouers, uitgebreide familie en ondersteuners ingesluit het.

Dit is dus veilig om te sê dat hierdie swembyeenkoms, naas die Frede Barnard-gala, die grootste swembyeenkoms in Oudtshoorn is. Selfs burgemeester Chris Macpherson het Saterdag kom inloer om al die besoekers welkom te heet.

Die verskillende swemstyle waarin meegeding is, was vlinderslag, borsslag, rugslag, vryslag asook aflos.

Die topdrie swemklubs van die swembyeenkoms is as volg:

Swartland (Malmesbury) – 831 punte

Fish Eagle (Mosselbaai, George en Oudtshoorn) – 828 punte

Tygervalley (Kaapstad – 759 punte.

(Deur Wyndham Ewerts, Oudtshoorn Courant)