Tyrese Karelse moker 100-tal

Tyrese Karelse - Union Stars-krieketklub

Tyrese Karelse in aksie. Foto: Wyndham Ewerts

15/02/2024

Tyrese Karelse, opwindende jong krieketspeler van Union Stars-krieketklub, het verlede week weereens gewys waarom hy so hoog-aangeskrewe is toe hy ‘n warrelwind 112 lopies in ‘n eendaagse wedstryd teen Mosselbaai gemoker het.

Wat sy kolfbeurt so spesiaal maak is dat Karelse bykans 70% van sy Union Stars 2 se algehele teiken van 181 lopies almal uit aangeteken het, terwyl die res van die kolflys nie hond haaraf kon maak nie.

Union Stars het korte mette gemaak met Mosselbaai se kolwers en hulle almal in die 26ste boulbeurt vir 126 lopies uitgehaal wat aan hulle ‘n oorwinning van 55 lopies besorg het.

Ambrose Carelse (4/18) en Sintu Majiza (3/18) was die uitblinkers met bal in hand vir Union Stars 2.

Karelse se loopbaan het opslae gemaak in 2019 toe hy op 18-jarige ouderdom vir die destydse SWD-seniorspan (nou Garden Route Badgers) gekies is.

In 2020 is dié hotkloukolwer ook ingesluit in die o.19-krieketwêreldbeker-oefengroep. Benewens die prestasie, is hy ook dieselfde jaar vir die o.19 Coca-Cola Khaya Majola-span gekies.

Met ‘n vertoning soos die naweek lyk Karelse se kanse op hoër louere weereens belowend, maar soos in elke sportdissipline, is konsekwentheid die wagwoord.

Oudtshoorn het ‘n ryk geskiedenis van spelers wat met die heel bestes in die land kan skouers skuur soos wat Marcello Piedt, Glenton Stuurman, Gershwin Rabie en Ottneil Baartman alreeds in die verlede bewys het.

(Deur: Wyndham Ewerts, Oudtshoorn Courant)