ASWD en Eden-atletiekkampioenskappe vir hoërskole 2025 in Oudtshoorn

Atlete van verskeie skole in die streek het deelgeneem.
07/03/2025
Die ASWD en Eden-atletiekkampioenskappe vir hoërskole, wat die afgelope naweek in Oudtshoorn plaasgevind het, het uitstekende resultate opgelewer.
Atlete van regoor die streek het aan verskeie baan- en velditems deelgeneem. Meer as 40 Oudtshoorn-atlete het vir die Eden-span gekwalifiseer en sal op 14 en 15 Maart aan die Wes-Kaapse kampioenskappe in Groenpunt, Kaapstad, meeding.
ASWD het vanjaar pogings aangewend om die standaard van die kampioenskappe te verhoog deur medaljes en elektroniese tydhoustelsels teen hoë kostes te bekom. Ongelukkig het die elektroniese tydhouer tydens een van die baanitems onklaar geraak, wat vrae laat ontstaan het oor die akkuraatheid van die atlete se tye.
Volgens Jannie Nel van Eden Athlete Management Services (EAMS) was die elektroniese tyd “ongelukkig nie op standaard nie”. Hy het verder verduidelik:
“Ons kon nie die tye as kredietwaardig beskou nie. Ons is baie dankbaar dat Ettiene (van SprintTimer) sy hybrid tye aan ons beskikbaar gestel het sodat ek Sondag alle baanuitslae se tye kon hersien. Danksy die werk van Prestige Athletics SprintTimer en Eden Athlete Management Services kan die kampioenskappe se uitslae as kredietwaardig aanvaar word.”
Die kampioenskappe het reeds Woensdag in George begin met paalspring en hamergooi, waarna die kompetisie Vrydag en Saterdag na die De Jager-sportkompleks in Oudtshoorn verskuif is.
Alhoewel die byeenkoms hoofsaaklik op hoërskoolatlete gefokus het, het veteraan- en meestersatlete ook deelgeneem. Johann Coetzer het in die M65+-kategorie aan die 100 m deelgeneem en sy bestaande SWD-rekords verbeter. Hy het die 100 m in 14.12 sekondes voltooi, wat sy vorige rekord van 14.60 sekondes verbeter het. In die 200 m het hy ‘n tyd van 30.32 sekondes behaal, waarmee hy die vorige rekord van 30.64 sekondes, wat reeds 29 jaar staan, oortref het. (Deur Liezl van Niekerk, Oudtshoorn Courant)