BERG EN TOERKLUB (BTK) IN DIE 1950’S

03/09/2026

Voetslaan as ‘n buitelug-aktiwiteit word deur ʼn klein persentasie mense in die Suid-Afrikaanse bevolking beoefen en het oor die jare verskillende vorme aangeneem. Vandag bestaan daar heelwat voetslaanklubs in verskeie dele van die land, waarvan die landwye Bergklub van Suid-Afrika sekerlik die grootste is. In hierdie moderne tyd gebruik voetslaners moderne toerusting – tente, stofies, potjies, slaapsakke, opblaaskussings, gemaklike stapskoene ens. (dit is ʼn lang lys) – om hulle ervaring van die aktiwiteit aangenaam en gemaklik te maak. Voetslaangroepe reis met gemaklike 4 x 4 of gewone sedan voertuie na hulle voetslaanbestemmings toe.

ʼn Driekwarteeu gelede het voetslaners nie oor al die bogenoemde luukshede beskik nie en moes voetslaangroepe in hulle bepanning en uitvoering van voetslaangeleenthede gebruik maak van wat in daardie tyd beskikbaar was, en dit was ʼn heel ander storie as vandag. Kom ons gebruik die Berg en Toerklub (BTK) van Stellenbosch Universiteit waaraan van ons voorgeslagte deelgeneem het, as ʼn voorbeeld van hoe voetslaan in die 1950’s plaasgevind het.

Min studente het in daardie jare motors gehad, daarom het studente wie se ouers vragmotors op die plase gehad het, gereël dat vragmotors beskikbaar sou wees om voetslaners en hulle toerusting te vervoer. Let op die meervoud van “vragmotors”, want voetslaan was in daardie jare ʼn ernstige besigheid, en groepe het soms uit tot 85 mense bestaan, soos in die foto hier onder.

BTK groep voetslaners Koue Bokkeveld 1950

ʼn BTK-groep van 85 voetslaners iewers in die Koue Bokkeveld (1950)

In daardie jare was voetslaanhutte op amptelike staproetes skaars – dit is eers in later jare ontwikkel. Elke groep moes sy eie verblyf in die vorm van tente reël, en dit was nogal ʼn logistieke nagmerrie om dit vir ʼn groot groep soos in die foto hier bo te doen. Al die nodige tente, ʼn paar tafels (nie opvoutafels nie), potte, panne, vars groente en vrugte, ander voedselvoorrade (bv. brode), eetgerei, matrasse, komberse en tasse met die voetslaners se klere vir die hele groep moes op die vragmotor(s) gelaai word. Dit moes ʼn hele oggend geneem het om alles op die vragmotor(s) te laai. Uiteindelik het die groep dan vertrek, en soms is van ʼn bus gebruik gemaak om die voetslaners te vervoer – andersins het hulle saam met hulle goed op die vragmotor(s) gery. Soms het groepe trein gery tot naby hulle bestemming.

By die bestemming is gewoonlik van ʼn basiskamp gebruik gemaak, waar tente opgeslaan is of, indien dit mooiweer was, ʼn gelyk terrein geïdentifiseer is waar almal in die oopte kon slaap. Omdat slaapsakke nog nie bestaan het nie, het almal maar grondseiltjies en komberse saamgeneem. Sponsmatrasse het nog nie bestaan nie, en daarom het hulle op die harde grond op die grondseiltjie en ʼn dubbel gevoude wolkombers geslaap. Omdat groot rugsakke in daardie jare nog nie geredelik beskikbaar was nie, het groepe hoofsaaklik dagstappe vanaf die basiskamp gedoen en net die dag se water en versnaperings in ʼn kleinerige rugsak saamgeneem.

In die basiskamp is spesifieke reëlings getref om alles vlot te laat verloop. Daar was byvoorbeeld kookspanne wat die kos gemaak het, skilspanne (om die groente te skil – gewoonlik die eerstejaarstudente in die groep), skottelgoedwasspanne (eerstejaars), vuurmaakspanne (mans), braaispanne (mans), ensovoorts. Die paar tafels wat saamgebring is, was nodig vir die kosvoorbereiding en -bediening en om vir almal toebroodjies vir die dag voor te berei.

BTK groep voetslaners dagstap Koue<br />
Bokkeveld 1950

ʼn BTK-groep van 85 voetslaners iewers in die Koue Bokkeveld (1950)

Die foto hier bo wys iets van die kleredrag wat gedra is. Dit was die jare toe vroue rokke en niks anders as rokke gedra het. Skoene was leerskoene wat maar geneig was om te skaaf, en om hierdie rede was daar “toontjiesdokters” wat met die nodige pleisters, gaas, salf ens. saans ná die stap almal se blase en skaafplekke gedokter het. Ook interessant op die foto is die blikbekers wat die stappers aan hulle gordels of klere saamgedra het. Omdat nie almal rugsakke gehad het nie, het baie net ‘n beker saamgeneem om daarmee water uit ʼn stroompie te skep.

Saans was daar heelwat bedrywighede in die basiskamp. Die mans het vuur gemaak waarom die groep kon kuier en vir die kospotte wat die vroue vir die voorbereiding van kos gebruik het. Almal het dan rondom die vuur gesit en eet. Ná ete is die skottelgoed gewas, en daarna is daar tot laatnag om die vuur gekuier. Die mansstudente het die geleentheid gebruik om sy gunsteling meisie vir die aand te “skiet”, en hulle het dan die aand by mekaar gesit.

Ná die aandete het hulle iets gedoen wat min van vandag se voetslaangroepe nog doen – hulle het lekker ligte liedjies saam gesing, hulle harte uit gesing. Die BTK van Stellenbosch Universiteit het ʼn sak-grootte sangbundeltjie gehad wat elke deelnemer by hom/haar gehad het, wat almal in staat gestel het om die woorde van die liedjies te ken en dit saam te sing en gemaklik saamgeneem kon word. Dit was op die destydse wasvelle getik, afgerol, die regte grootte geknip en met die hand met krammetjies gebind – wat vir die samestellers nogal ʼn tydsame proses moes wees om vir die baie deelnemers elkeen ʼn bundeltjie te kon gee, maar wat gewis met ʼn glimlag gedoen is. Die bundeltjie het Afrikaanse, Nederlandse en Duitse liedjies wat in daardie tyd gewild was, bevat.

BTK sangbundeltjie Stellenbosch<br />
Universiteit

BTK-sangbundeltjie van Stellenbosch Universiteit – let op wat alles gesing is!

Soos reeds genoem, het die vroue in daardie tyd met rokke aan voetslaangeleenthede deelgeneem. Dié rokke was gewoonlik kakierokke wat tot onder die knieë by die kuite gekom het. Dit moes sekerlik uitdagings gebied het, veral by plekke waar ʼn mens deur digte plantegroei moes beweeg. Hier onder is ʼn besondere aksiefoto wat met ʼn kamera van daardie tyd geneem is – die fotograaf moes sy storie ken met hierdie foto! Om die foto in perspektief te stel: Op die Groot Krakadouw in die noordelike gedeelte van die Sederberge is lang splete in die berg wat tussen 1 en 3 meter breed is met ʼn 30 m of meer afgrond ondertoe – as jy daar oorspring en jou voet gly of iets gebeur wat maak dat jy daar afval, val jy jou dood onder in die spleet. Die vrou in die foto spring op die Groot Krakadouw met daardie rok oor ʼn 1½ m breë spleet met ʼn afgrond van ongeveer 30 m – vreesloos!

Krakadouw dagstap 1950.

Spring oor ʼn 1.5 m breë afgrond van ongeveer 30 m – met daardie rok!

Maltese-Kruis-Sederberge-1950

Maltese-Kruis-Sederberge-1950

Ons bring hulde aan almal wat in die verlede en tot nou toe die wonderlike voetslaanaktiwiteit ontwikkel het tot waar dit vandag is, sodat ons vandag nog die wonders van die natuur kan verken en beleef. (Deur Danie Steyl, Klein Karoo Voetslaanklub)