Best of Oudtshoorn Lottery – Rudolf Meyer wen vakansie!

Best of Oudtshoorn Lottery wenner, Rudolf Meyer van Stilbaai. Foto: verskaf
09/05/2025
Rudolf Meyer (73), ‘n inwoner van Stilbaai, is op Maandag 28 April aangewys as die wenner van die Best of Oudtshoorn Lottery nadat sy wengetal, 77, tydens ’n spesiale trekking by die Ostrich Emporium getrek is. Die trekking is gedoen deur Oudtshoorn se burgemeester, Johan Allers, terwyl Pienaar Muller, projekbestuurder van die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI), en Dave van der Walt van OSI dit bygewoon het.
Die lotery is deur OSI geloods om fondse in te samel vir belangrike opgraderingswerk aan die pawiljoen van die NA Smit-swembad. In totaal is 89 kaartjies verkoop.
Die hoofprys is ’n vakansie vir vier persone in die Klein-Karoo, met ’n waarde van R70 000. Dit sluit akkommodasie, aktiwiteite en etes in, en vind plaas vanaf 28 Junie tot 5 Julie.
Die volgende plekke in Oudtshoorn vorm deel van die prys: De Zeekoei, Safari Volstruisplaas, La Plume Spa, Mooiplaas, Cango Wildlife Ranch, Nostalgjie, Surval Olyflandgoed, Black Swan, Sante Fe Spur, Wilgewandel-vakansieplaas, Kango-grotte, Oude Meul, Karusa, Buffelsdrift Game Lodge, Karoopot en Chandelier Game Lodge.
In ’n onderhoud met Oudtshoorn Courant het Meyer gesê dat die realiteit van die wen steeds besig is om tot hom deur te dring.
“My dogter, Zanie Smit woon in Oudtshoorn. Haar twee seuns is by tweekamp in Oudtshoorn betrokke. My dogter het my vertel van die kaartjies en dat geld ingesamel word om noodsaaklike opgradering aan die pawiljoen by die NA Smit-swembad te doen. My kleinkinders swem gereeld in swemgalas hier so dit is ’n goeie inisiatief om te ondersteun en het ek ’n kaartjie gekoop.”
(Deur Oudtshoorn Courant)