Blinde fietsryers maak geskiedenis by SA Jeug Padfietskampioenskappe
Foto: Sharon van Straaten
17/10/2025
’n Merkwaardige gebeurtenis in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis het hierdie week in Oudtshoorn plaasgevind toe blinde en siggestremde fietsryers vir die eerste keer deelgeneem het aan die SA Jeug Padfietskampioenskappe, wat van 7 tot 9 Oktober aangebied is.
Die inisiatief is gelei deur Corné Bence, president van Eden Fietsry en voorsitter van die Wes-Kaapse Fietsry-assosiasie, wat die potensiaal en droom van jong siggestremde fietsryers raakgesien het. Met die ondersteuning van Johan Bekker van Parra-Cycling is hierdie historiese deelname ’n werklikheid gemaak.
Die pad na hierdie mylpaal het in 2023 begin toe die 13-jarige Sebastian Bekker die klub Ride de Friends gestig het — ’n fietsrygroep wat kinders met siggestremdheid bemagtig om aktief deel te neem aan die sport. Deur middel van tandemfietse, waar ’n siende loods voor ry en die siggestremde deelnemer agter, het die klub nuwe moontlikhede geskep vir jong ryers wat voorheen uitgesluit was van kompetisie.
Volgens Bence het die projek gegroei tot ’n betekenisvolle beweging van insluiting en samewerking. Hy beklemtoon dat die sukses te danke is aan die betrokkenheid van vrywilligers en fietsry-entoesiaste wat hul tyd en kundigheid aanbied om fietse te onderhou, opleiding te verskaf en byeenkomste te ondersteun.
Hierdie prestasie bied nou nuwe geleenthede vir siggestremde jongmense in Suid-Afrika om hul drome na te jaag en moontlik eendag aan internasionale kompetisies deel te neem.
Die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Johan Allers, het die betrokkenes geloof vir hul deursettingsvermoë en inspirerende bydrae tot sportontwikkeling. Hy het beklemtoon dat ware kampioene nie slegs deur medaljes bepaal word nie, maar deur hul moed om uitdagings te oorkom en nuwe grense te verskuif. (Deur Die Hoorn)