Bridgton RFC se drie spanne dring deur na die finaal
Bridgton RFC se drie spanne dring deur na die finaal. Foto: Granwille Golaith
11/09/2026
Bridgton RFC het die afgelope Saterdag ’n besonderse prestasie gelewer toe al drie hul spanne hul onderskeie halfeindstryde gewen het en deurgedring het na die eindstryde.
Die prestasie is selfs meer merkwaardig omdat al drie spanne die seisoen bo-aan die punteleer afgesluit het – ’n historiese eerste vir die klub.
Die dag se rugby het afgeskop met die C-span se kragmeting teen Evergreens. Dit was ’n taai en spanningsvolle wedstryd waarin albei spanne hard meegeding het. Bridgton het egter hul kalmte behou en uiteindelik met 14-8 geseëvier om hul plek in die eindstryd te verseker.
Daarna het die B-span teen Heidelberg in hul halfeindstryd uitgedraf. Met goeie struktuur, sterk verdediging en doeltreffende spel het Bridgton beheer oor die wedstryd geneem. Hulle het hul geleenthede goed benut en met 22-14 gewen om ook hul plek in die finaal te bespreek.
Die hoogtepunt van die dag was egter die A-span se kragmeting teen Evergreens. Die wedstryd was vinnig, fisiek en hoogs mededingend, met albei spanne wat van die begin af alles op die spel geplaas het. Evergreens het rustyd met ’n skrale 26-25 voorsprong voorgeloop.
Bridgton het egter in die tweede helfte sterk teruggeveg en met vasberadenheid en uitstekende spanwerk die momentum in hul guns verander. Die twee spanne het aanhou aanval en punte aangeteken, maar Bridgton het uiteindelik met ’n opwindende 42-38 oorwinning die deurslag gegee.
Met al drie spanne wat nou vir die eindstryde gekwalifiseer het, is alle oë gerig op komende Saterdag, 12 September, wanneer Bridgton teen Barbarians op Outeniqua Park in George te staan kom.
Die eindstryd beloof om besonder betekenisvol te wees, aangesien Bridgton en Barbarians onderskeidelik eerste en tweede op die punteleer geëindig het.
Die groot vraag onder spelers en ondersteuners is nou: Kan Bridgton drie bekers huis toe bring?
Op grond van hul huidige vorm, spanwerk en indrukwekkende vertonings in die halfeindstryde, het die klub beslis ’n uitstekende geleentheid om verdere geskiedenis te maak.
Die gemeenskap sien met groot afwagting uit na wat beloof om ’n onvergeetlike rugbydag op Saterdag 12 September te wees. (Deur GRANWILLE GOLIATH, Die Hoorn)