Bridgton-rugbyklub behaal oorwinnings teen Riversdal Blues
Bridgton teen Riversdal Blues Foto verskaf
20/06/2025
Bridgton-rugbyklub het Saterdag alle drie hul spanne se wedstryde teen die Riversdal Blues op hul tuisveld gewen, ten spyte van uitdagende weerstoestande wat koud, nat en winderig was. Die klub het ‘n sterk algehele vertoning gelewer en sy status as een van die voorste spanne in die streek bevestig.
In die hoofwedstryd van die dag het Bridgton se eerstespan met 46 – 21 geseëvier. Hoewel hulle met 15 – 16 agter was met rustyd, het hulle die tweede helfte gedomineer. Dehovine Johannes het uitgestaan met twee drieë, vier doelskoppe en twee strafskoppe. Ander puntemakers was Francois Gelderblom, Sipho Ggcobo, Thabo Dyantyi en Brian Williams.
Die tweedespan het met 21 – 17 gewen. Kyle Taute het drie strafskoppe en ‘n doelskop behaal, terwyl Ryden Jonkers en Sergie Oktober elk ‘n drie gedruk het.
Die C-span het hul wedstryd met 36 – 29 gewen. Marcelino Walkies het twee drieë gedruk, en Machall Bruintjies, Juverno Jonathan en Christo Blaauw elk een. Jonathan het verder vier doelskoppe en ’n strafskop suksesvol oorgeplaas.
Hoewel Riversdal Blues tweede beste was op die dag, het hul spelers met waardigheid gespeel en individuele prestasies gelewer.
Bridgton se volgende wedstryd is teen Harlequins op Vrydagaand op hul tuisveld, Die Plate. Die afskop is om 18:00. Kaartjies is beskikbaar by Bridgton Hardware teen R30 vir volwassenes, R10 vir studente, R20 vir hoërskoolleerders, en R20 per voertuig.
(Deur Liezl van Niekerk, Oudtshoorn Courant)