Buco Eden-Overberg Toutrekkampioenskappe 2026 in Oudtshoorn
Buco Eden-Overberg Toutrekkampioenskappe 2026 in Oudtshoorn
Foto: Granwille Goliath
6/03/2026
Die Buco Eden-Overberg Interstreek Toutrekkampioenskappe 2026 het op Saterdag, 28 Februarie, by die Oudtshoorn Vaardigheidskool se sportgronde in Albertstraat plaasgevind. Jong toutrekkers uit die streek het hier hul krag en spanwerk ten toon gestel. Skole uit Overberg, Eden en die Sentraal-Karoo het aan die kompetisie deelgeneem.
Altesaam 35 spanne en meer as 950 atlete het in verskeie gewigskategorieë meegeding. Deelnemers het deelgeneem in die Senior-afdeling (stewels), Junior-afdeling (kaalvoete) en Junior-ontwikkelingspanne, wat jong atlete die geleentheid bied om ervaring in die sport op te doen.
Die kompetisie het seuns-, meisies- en gemengde spanne in die verskillende gewigsafdelings ingesluit, wat vir strawwe en mededingende trekke gesorg het.
Spanne en deelnemers wat eerste, tweede en derde plekke behaal het, het hul Eden-kleure verwerf, wat ’n belangrike prestasie vir jong toutrekkers in die streek is.
In die ontwikkelingskategorie word kleure egter nie toegeken nie. Spanne in hierdie afdeling mag slegs vir twee jaar deelneem en die fokus val hoofsaaklik op ontwikkeling en ervaring.
Die Oudtshoorn Toutrekklub is verlede jaar gestig, maar dit was vanjaar die eerste keer dat ’n senior span (stewels 14–18 jaar) aan die kompetisie deelgeneem het. Die span het goed presteer tydens die byeenkoms.
Die byeenkoms het nie net sterk kompetisie opgelewer nie, maar ook gewys dat die sport van toutrek steeds onder jongmense in die streek groei.
Die volgende byeenkoms vind die komende naweek in Suurbraak plaas, waar die Wes-Kaap Kampioenskappe aangebied word. Die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe volg op 20 Maart in Robertson. (Deur Die Hoorn)