Eden-tweekamp beplan besige 2025/26-seisoen in Oudtshoorn

Eden-tweekamp- Oudtshoorn

Eden-tweekamp Oudtshoorn

16/01/2026

Eden-tweekamp het ’n baie suksesvolle 2024/25-seisoen voltooi en fokus reeds op die beplanning van ’n komende besige seisoen. Volgens Dave van der Walt is voorbereidings reeds goed op dreef vir die nuwe seisoen wat in Oktober 2025 begin het.

“Behalwe vir die twee inter-provinsiale byeenkomste van 1 November 2025 en by Highgate op 7 Februarie is Eden-tweekamp die gasheer vir die 49ste kampioenskappe wat op 20 en 21 Maart in Oudtshoorn aangebied word. Daarbenewens bied Eden-tweekamp nog twee proewebyeenkomste, vier ligabyeenkomste, die Wimpy-dubbelsbyeenkoms, Eden-kampioenskappe, drie ontwikkelingsklinieke en ‘n kapasiteitswerskwinkel aan. Om reëlings in plek te kry word gereelde komiteevergaderings gehou, asook ‘n strategiese beplanningsvergadering.”

Wat is tweekamp?

Tweekamp is ’n veelsydige sport wat uit twee dissiplines bestaan, naamlik hardloop (400 tot 800 meter) en swembad-swem (25 tot 100 meter). Die seisoen strek jaarliks vanaf 1 September tot April en sluit ouderdomsgroepe van 7 tot 80+ in, vir beide mans en vroue.

“Dit is werklik ‘n sport vir gesinne wat lewensvaardighede bied. In Eden word al die byeenkomste (uitgesonder die interprovinsiale byeenkomste) op Dinsdagmiddae gehou om atlete die geleentheid te bied om ook nog ander aktiwiteite te beoefen,” noem Van der Walt.

Vir meer inligting kan Dave van der Walt by 082 7734 901 gekontak word.

(Deur Louise Mouton, Oudtshoorn Courant)