Eden-tweekamp Berei Voor vir ’n Besige Seisoen in Oudtshoorn

Eden-tweekamp

Selfs die kleinspan kan deelneem aan Tweekamp. Foto: Dave van der Walt

10/01/2025

‘n Besige seisoen wag vir Eden-tweekamp met twee nasionale byeenkomste wat in Oudtshoorn plaasvind, sowel as vier ligabyeenkomste wat nog moet plaasvind.

 

Die program vir die 2025 tweekamp is soos volg:

  • 21 Januarie – Eden-proewebyeenkoms by Highgate
  • 1 Februarie – Tweekamp-byeenkoms by Highgate
  • 4 Februarie – Wimpy Doubles
  • 4 Maart – Highgate Eden Kampioenskappe by Highgate
  • 21 en 22 Maart – SA Tweekamp-kampioenskappe.

 

Ontwikkelingsvlak

Volgens Dave van der Walt, ontwikkelingsbestuurder, maak die ontwikkelingsprogram goeie vordering.

“Twee ontwikkelingsklinieke sal plaasvind, een op 19 Februarie in Grootbrakrivier en een op 11 Maart in Bridgton, Oudtshoorn. Meer as 200 atlete het reeds geregistreer, en daar word nog heelwat meer verwag wanneer skole op 15 Januarie heropen.”

Spanne gekies

Van der Walt verduidelik dat die Eden-meriete- en -ontwikkelingspanne tydens die Eden-proewebyeenkoms gekies sal word. Hierdie spanne neem deel aan die Highgate Interprovinsiale-kompetisie. Die span vir die SA Kampioenskappe sal egter tydens die Eden Kampioenskappe bepaal word.

Tweekamp, sê hy, is ‘n gesinssport wat voorsiening maak vir alle ouderdomsgroepe – van 7-jariges tot atlete ouer as 80 jaar.

“Tweekamp bestaan uit hardloop (400m en 800m) en swem (25m, 50m en 100m). Benewens die nasionale byeenkomste, vind ligabyeenkomste op Dinsdagaande plaas, wat atlete kans gee om Saterdae aan ander sportsoorte deel te neem.”

Hy noem ook dat daar ‘n virtuele klub genaamd Eden Nomads beskikbaar is vir atlete wat nie naby ‘n geaffilieerde klub woon nie.

Vir meer inligting kan die webtuiste en Facebook-blad ‘edenbiathlon’ besoek word. Alternatiewelik kan Dave van der Walt direk gekontak word by 082 773 4901.

(Deur Louise Mouton, Oudtshoorn Courant)