El Roi seuns blink uit by byeenkomste

Wilna Francis-Huis El Roi-Oudtshoorn

Wilna Francis by die seuns van Huis El Roi tydens die Madibaz Forest Run. Foto: verskaf

12/09/2025

Sestien seuns van El Roi, voorheen bekend as Huis Triomf, neem aktief aan Parkruns deel onder leiding van bestuurslid Wilna Francis.

“Ek het besef die seuns het talent, en dat Parkruns slegs die begin van hierdie avontuur gaan wees,” verduidelik Francis.

Na kontak met Petrus le Roux en Marius October is die seuns formeel begin afrig. Tydens een van die byeenkomste het Danie Raubenheimer van die Nedbank Running Club hul potensiaal raakgesien en aangebied om die groep te borg. Hierdie borgskap sluit klere, affiliasie en inskrywingsgelde in.

Die seuns het die afgelope naweek aan die Madibaz George Forest Run in George deelgeneem en uitstekend gevaar.

“Ons is besig om te kyk of ons vir die kinders kan hardlooptekkies kry, ek is juis besig om die wat hulle tans het weer met gom vas te plak,” sê Francis. Volgens haar hardloop dié sonder skoene sommer kaalvoet.

Persone wat tweedehandse of nuwe tekkies wil skenk, is welkom om Francis by 082 929 4210 te kontak.

Francis, ’n afgetrede onderwyseres, en haar man, ’n afgetrede skoolhoof van Môrester Skool, is aktief betrokke by El Roi en bied hul dienste vrywillig aan.

“Dit is ook wonderlik om al die veranderinge en verbeteringe te sien vandat pastor Roelof Kwant, van Barn Fellowship kerk in Johannesburg, betrokke geraak het by die huis, en ons is so dankbaar vir alles wat hulle hier vir die kinders doen,” sluit sy af.

Die kinders se identiteite en foto’s mag ingevolge die Kinderwet nie openbaar gemaak word nie. (DEUR ANGELIQUE ERASMUS, DIE HOORN)