Finansiële Ondersteuning Vir Oudtshoorn Sportsterre
Die rugbyspelers wat vir die O.13 Cravenweekspan gekies is, het saam met die burgemeester, Chris Macpherson, die geleentheid bygewoon. Die Oudtshoorn Munisipaliteit het ‘n bedrag van R38 500 bygedra tot die ondersteuning van die spelers. Foto verskaf
21/06/2024
Op Dinsdag, 11 Junie, het die Oudtshoorn Munisipaliteit bekend gemaak dat al die sportspanne en individue wat die afgelope ses maande finansiële ondersteuning van die Munisipaliteit ontvang het vir hul deelname aan sport, erken is.
Binne hierdie groep atlete het die skopboksers R24 250 ontvang vir hul nasionale deelname, terwyl SWD Tweekamp R12 600 ontvang het vir die SA Kampioenskappe in Bloemfontein. Vir die hokkie-atlete wat aan kompetisies in Johannesburg, Bloemfontein, en Paarl gaan deelneem, is daar ‘n borg van R60 000 beskikbaar gestel.
Die spelers wat aan die o.13 en o.18 Cravenweek deelgeneem het, het gesamentlik ‘n bedrag van R96 500 ontvang.
Ander atlete wat finansiële ondersteuning ontvang het, sluit in skaakspelers, netbalspelers, die veerpyltjiespan wat by die SA Kampioenskappe in Bloemfontein gaan deelneem, die toutrekspan van Laerskool Laurus, die vrouekrieketspan van Union Stars, en die spelers wat aan die SA Skole muurbaltoernooi gaan deelneem.
“Die Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n bedrag van meer as R200 000 beskikbaar gestel om finansiële hulp aan Oudtshoorn-atlete te bied,” het Ian Loubscher, Sport Ontwikkeling van Oudts-hoorn Munisipaliteit gesê. (Deur Lindi Brill, Die Hoorn)