Highgate Interprovinsiale Tweekamp 2026 lewer rekords
Foto: Granwille Goliath
13/02/2026
Ten spyte van uitdagende warm toestande het atlete in groot getalle deelgeneem aan die DCAS/Groter Oudtshoorn/Highgate Interprovinsiale Eden Tweekamp wat onlangs in Oudtshoorn plaasgevind het. Die hoë temperature het nie deelname beïnvloed nie, en verskeie atlete het uitstekende prestasies gelewer, met ’n aantal rekords wat verbeter is.
Die byeenkoms, wat vanjaar vir die 33ste keer aangebied is, is deur deelnemers en beamptes as een van die suksesvolste tot dusver beskryf. Meer as 560 atlete van verskillende ouderdomsgroepe het aan die goed georganiseerde kompetisie deelgeneem. ’n Belangrike ontwikkeling was dat die paviljoen van die NA Smit-swembad vir die eerste keer van ’n dak voorsien is, wat bygedra het tot verbeterde geriewe en die algehele sukses van die byeenkoms.
Altesaam een Suid-Afrikaanse rekord en nege Highgate-rekords is tydens die kompetisie verbeter, terwyl talle deelnemers ook persoonlike beste prestasies behaal het. Die nuwe Highgate-rekordhouers sluit in Simeon Bezuidenhout en Pierre Spies (Eden), Rowan Marais (WP), Archie Markgraaf (SFS), Ava Kruger (Boland), Helene Lombaard en Ninah Weddersbum (OP), Sunee Pretorius (WP), wat ook die Suid-Afrikaanse rekord verbeter het, en Kathy Gey van Pittius (Boland).
Eden het sterk vertoon en altesaam 22 medaljes verower, bestaande uit ses goue, nege silwer- en sewe bronsmedaljes. Eden se spesiale behoefte-atlete het ook ses medaljes bygedra. Pierre Spies is, benewens sy rekordprestasie, as Junior Victor Ludorum aangewys, terwyl Melissa Meyer die beste prestasie in die hardloop-item gelewer het.
In die spankompetisie het Boland eerste geëindig, gevolg deur WP in die tweede plek en Eden derde. Die skolekompetisie het belowende resultate gelewer, met George-Suid Laerskool as wenner van die laerskoolafdeling en Outeniqua LS in die tweede plek. In die hoërskoolafdeling het HS Outeniqua tweede geëindig, terwyl HLS Oakdale die derde plek behaal het.
Die Highgate 2026-trofeë is toegeken aan Kayla van der Merwe (Junior Victrix Ludorum – WP), Pierre Spies (Junior Victor Ludorum – Eden), Kathleen Gey van Pittius (Senior Victrix Ludorum – Boland) en Paul Roux (Senior Victor Ludorum – WP).
Die byeenkoms het opnuut bevestig dat die Highgate Interprovinsiale Tweekamp ’n belangrike gebeurtenis op die atletiekkalender bly en dat die toekoms van atletiek in die Eden-streek positiewe vooruitsigte toon. (Deur GRANWILLE GOLIATH, Die Hoorn)