Infanterieskool Sokker Toernooi Hervat met Groot Deelname
Foto: Yardlynne Pypers
30/01/2026
Na ’n lang onderbreking is die sokkerwedstryde die afgelope Saterdag weer hervat op die sportveld van die Infanterieskool. Die toernooi is tans in sy tweede week en trek elke naweek ’n beduidende aantal spelers en ondersteuners.
Sestien spanne neem aan die kompetisie deel, wat dit tot ’n sterk mededingende toernooi maak. Spanne van verskillende eenhede en gemeenskappe ding mee om die voorste plekke op die punteleer, met ’n sigbare verbetering in spelgehalte soos die toernooi vorder.
Die atmosfeer op die veld was energiek, met ondersteuners wat hul spanne aktief ondersteun het. Fast Eleven is tans bo-aan die punteleer met 15 punte en het tot dusver konsekwente en doeltreffende spel gelewer. Hul sterk spanwerk plaas hulle onder die voorste aanspraakmakers vir die toernooioorwinning.
Simunye beklee tans die laaste plek op die punteleer sonder enige punte, maar sal in die komende wedstryde poog om hul prestasie te verbeter en punte in te samel.
Die Infanterie-sokkerspan het ook die afgelope naweek deelgeneem en ’n aanvaarbare vertoning gelewer. Hulle het een wedstryd gewen en een gelykop gespeel, wat vir hulle waardevolle punte opgelewer het. Die span se dissipline en vasberadenheid op die veld is deur toeskouers opgemerk en geloof.
Met nog verskeie wedstryde wat voorlê, word daar uitgesien na verdere mededingende sokker. Die toernooi dien nie slegs as ’n sportiewe kompetisie nie, maar bevorder ook spanbou, fiksheid en gemeenskapsamehorigheid.
(Deur GRANWILLE GOLIATH, Die Hoorn)