Jason Jafta vereer vir 32 Comrades-wedlope en eremuur

Jason Jaftha-Oudtshoorn-Comrades Marathon

Jason Jaftha; Foto: Liezl van Niekerk.

14/11/2025

Die 66-jarige Jason Jafta van Oudtshoorn is onlangs vereer met ’n plaatjie op die Comrades Marathon se Wall of Honour. Hierdie toekenning erken sy langdurige toewyding aan Suid-Afrika se bekendste ultra-marathon.

Jafta, ’n lid van die Elite Groen Nommer Klub, het vanjaar sy 32ste Comrades voltooi. Hierdie mylpaal plaas hom onder die elite groep hardlopers wat met drie louriere vereer word. Hardlopers ontvang een lourier vir elke tien voltooide wedlope, terwyl 30 of meer voltooide Comrades wedlope erken word met drie louriere as bewys van uitsonderlike deursettingsvermoë.

Sedert sy eerste deelname in 1990 het Jafta slegs drie wedlope gemis. Met 32 voltooide Comrades oortref hy die vereistes vir ’n permanente groen nommer ruim. Sy naam verskyn nou op die Groen Nommer Klub se ererol, asook op die Wall of Honour langs die Comrades-roete met uitsig oor die Vallei van ’n Duisend Heuwels.

Volgens Jafta is sy grootste motivering om aan te hou hardloop sy gesondheid, sy liefde vir die sport en die ondersteuning van sy gesin. “Ek het grootgeword op ‘n plaas op die grottepad buite Oudtshoorn. Van kleins af het ek skool toe gedraf en weer terug huis toe. Ek was nog altyd lief vir hardloop,” vertel hy.

Hy benadruk dat deeglike voorbereiding noodsaaklik is. “Ek oefen daagliks langafstande met die hulp van Johann Coetzer, en een of twee keer per maand doen ek ‘n 65 km. Jy moet jou bene gewoond maak aan die baie lang afstande, jy is vir ure aaneen op jou voete.”

Jafta beskryf sy eerste Comrades as sy mees gedenkwaardige ervaring. Sy moeilikste deelname was egter die afgelope jaar toe hy ná ’n val ’n besering opgedoen het. “Ek was ongelooflik trots toe ek klaar was. Die moeilikste een was my laaste, toe ek ná ‘n val ‘n besering opgedoen het,” vertel hy.

Vir hom is hierdie eer nie net ’n sportprestasie nie, maar ook ’n simbool van volharding, geloof en waardering. Ná skool het hy by die weermag aangesluit en later as paramedikus gekwalifiseer. Hy het daarna tot ses jaar gelede by die Oudtshoorn-hospitaal gewerk tot sy aftrede.

“Ek beskou dit as ‘n groot voorreg om ‘n plaatjie op die muur te hê. Hardloop leer jou meer as net fiksheid, dit leer jou stamina, volharding en karakter.” (Deur Liezl van Niekerk, Oudtshoorn Courant)