KKAF Jaarvergadering 2025

Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF)

23/05/2025

Die Jaarlikse Algemene Vergadering (AJV) van die KKAF se trustees is op Woensdag 14 Mei gehou.

Die huidige trustees is Hans van der Veen (voorsitter), David McKinnon (verantwoordelik vir finansies), Dave van der Walt (operasionele bestuurder) en Yaron Venter (verantwoordelik vir atlete-ondersteuning, soos voorheen behou). Die vergadering het ook met waardering afskeid geneem van Carien Loubser, wat na jare se diens haar bedanking ingedien het.

Die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) is oorspronklik gestig met die doel om behoeftige, talentvolle atlete in die gemeenskap te ondersteun. Aanvanklik het die fokus geval op afrigtingshulp, maar met verloop van tyd het dit duidelik geword dat ‘n meer holistiese benadering nodig is. Vandag help die fonds verskeie atlete om aan sportbyeenkomste deel te neem.

Wat begin het as ‘n inisiatief van Hans van der Veen, het intussen ontwikkel tot ‘n gevestigde sportorganisasie. Die KKAF is verantwoordelik vir die organisasie van die jaarlikse Eden-straatmylreeks – ’n gewilde vakansie-aktiwiteit in die Suid-Kaap – asook die sake-aflos wat jaarliks in Oudtshoorn plaasvind. Hierdie projekte dien as fondswerwing vir die voortsetting van die fonds se werk in diens van die gemeenskap.

Daar is tans ook gesprekke met die Nelson Mandela Universiteit in George, asook met belanghebbendes in Plettenbergbaai en die Hessequa-munisipaliteit in Stilbaai, om die Eden-straatmylreeks verder uit te brei.

Wat die komende sake-aflos op 9 Oktober betref, is daar vanjaar ‘n paar belangrike veranderinge. Die jarelange borgskap van Timbercity het tot ‘n einde gekom, maar nuwe vennote – naamlik Cango Wildlife Ranch, Group Editors (eienaars van die Oudtshoorn Courant), die Oudtshoorn Munisipaliteit en Santa Fe Spur – het betrokke geraak om die voortbestaan van hierdie inisiatief te verseker. (Deur Louise Mouton, Oudtshoorn Courant)