KKS skenk R30 000 vir Oudtshoorn se pawiljoendak
Dave van der Walt, Dawid Malan en Wilma Pienaar. Foto: Louise Mouton
24/04/2026
Klein Karoo Saadproduksie (KKS) het Maandagoggend, 30 Maart, ’n tjek van R30 000 aan Dave van der Walt en Wilma Pienaar, voorsitter van die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI), oorhandig vir verdere opgradering van die swembad se pawiljoendak.
Die oorhandiging is deur Dawid Malan, besturende direkteur van KKS, gedoen. Malan het gesê dit is vir KKS ’n voorreg om by sport in die dorp betrokke te wees en om deur middel van kontantbydraes ’n betekenisvolle verskil te maak.
Volgens Van der Walt was die terugvoer van tweekampdeelnemers en besoekers baie positief oor die nuwe pawiljoendak, wat nou broodnodige skadu bied teen Oudtshoorn se uitermatige hitte.
Hy verduidelik dat die OSI as ’n niewinsgewende organisasie gestig is om die sporttoerismewaarde van Oudtshoorn te behou en uit te bou. Die organisasie werk saam met sportliggame en die munisipaliteit om sportfasiliteite te onderhou en te bemark. Volgens hom lewer sporttoerisme ’n belangrike ekonomiese bydrae tot die dorp.
Van der Walt wys onder meer op tweekamp as voorbeeld. Verlede jaar se SA kampioenskappe is aan Eden-tweekamp toegeken, wat meer as 900 atlete en ondersteuners, uit ongeveer 14 provinsies, vir minstens vier dae na Oudtshoorn gelok het. Volgens die tariefwaarde soos deur SA Toerisme bepaal, het dit sowat R10 miljoen tot die plaaslike ekonomie bygedra. Hy sê dit is daarom noodsaaklik om sportfasiliteite in Oudtshoorn op standaard te hou. Die 2027 SA Tweekampkampioenskappe is ook weer aan Eden en Oudtshoorn toegeken.
Volgens Van der Walt is Oudtshoorn al vir baie jare een van die voorkeurplekke vir swemgalas en tweekampbyeenkomste. Hy sê egter dat uitbou en onderhoud oor die jare nie genoegsaam bygehou het nie. ’n Vorige poging om ’n net oor die pawiljoen te sit, het nie suksesvol geblyk nie, waarna die opgradering van die pawiljoendak ’n prioriteitsprojek vir die OSI geword het.
Met die skenking van KKS kon die projek nou voortgaan, en Van der Walt meen dit sal tot voordeel van die hele gemeenskap wees en ’n langtermyn nalatenskap laat. (Louise Mouton, Deur Oudtshoorn Courant)