Momentum Attakwas Extreme lok meer as 600 fietsryers

Yolande-de-Villiers-Attakwas

Yolande de Villiers het 4de geëindig na ’n lang dag op die fiets. Foto verskaf.

24/01/2025

Die Momentum Medical Scheme Attakwas Extreme, aangebied deur Biogen, het Saterdag vroegoggend meer as 600 fietsryers na ’n uitdagende wedren gelok. Die eerste fietsryers het om 06:30 by Chandelier, net buite Oudtshoorn, weggespring en die 124 km lange roete aangepak.

Hierdie gewilde bergfietswedren word jaarliks deur Dryland Event Management georganiseer. Vanjaar se wenner, Alan Hatherly, het die roete in ’n indrukwekkende tyd van 04:50:16 voltooi. Samantha Sanders het as dameswenner uitgetree, met ’n tyd van 06:08:24. Yolande de Villiers, ’n bekende plaaslike fietsryer van Oudtshoorn, het die wedren in die vierde posisie geëindig met ’n tyd van 06:33:58.

Die resies het ook meer as tien internasionale fietsryers gelok. Die jongste deelnemer was net 19 jaar oud, terwyl die oudste deelnemer, op 77-jarige ouderdom, die volledige afstand suksesvol voltooi het.

Benewens die hoofwedren is daar ook die Attakwas Half (47 km) en Mini (38 km) aangebied, wat albei vanaf Pine Creek Vakansieoord begin het. Sowat 200 fietsryers het aan hierdie korter afstande deelgeneem. (Deur: DIE HOORN, OUDTSHOORN)