Moonlight FC kroon hulself as SAFA Eden-kampioene 2026
Moonlight FC SAFA Eden-kampioene 2026. Foto verskaf.
03/07/2026
Moonlight FC het geskiedenis gemaak deur die 2025/2026 SAFA Eden Hollywoodbets Streeks Liga-titel te wen. Die Dysselsdorp-gebaseerde klub het die seisoen as kampioene afgesluit en bevestig daarmee hul status as die voorste span in die Eden-streek. Die prestasie bring hulle ook een stap nader aan moontlike bevordering na die ABC Motsepe Liga.
Moonlight FC het die liga bo-aan die punteleer afgesluit met 75 punte uit 34 wedstryde. Die span het 23 oorwinnings behaal, ses wedstryde gelykop gespeel en net vyf keer verloor. Hul aanvallende spel was deurgaans indrukwekkend, met 91 doele aangeteken en slegs 45 afgestaan.
Die kampioenskap is op die laaste wedstryddag beklink. Moonlight FC het hul eerste wedstryd teen FC Rebels met 8-0 gewen nadat hulle reeds teen rustyd met 5-0 voorgeloop het.
In hul tweede wedstryd het Moonlight FC teen Smuts United te staan gekom. Die wedstryd het met ‘n 3-3 gelykopuitslag geëindig, maar die punt was voldoende om die span as die amptelike SAFA Eden Hollywoodbets Streeks Liga-kampioene te kroon.
Volgens klubvoorsitter Keanan du Plessis is die titel die resultaat van jare se harde werk, toewyding en deursettingsvermoë deur spelers, afrigters, bestuur, ondersteuners en die Dysselsdorp-gemeenskap.
“Hierdie prestasie behoort aan elke persoon wat in Moonlight FC geglo het. Die klub het uitdagende tye beleef, maar ons het saamgestaan en aangehou werk. Vandag vier ons nie net ‘n titel nie, maar die vrugte van jare se toewyding,” het hy gesê.
Die span se fokus verskuif nou na die SAFA Wes-Kaap Provinsiale Uitspele wat op 4 en 5 Julie in Gansbaai plaasvind. Ses streekskampioene sal teen mekaar meeding vir ‘n plek in die ABC Motsepe Liga, die derde hoogste vlak van sokker in Suid-Afrika.
Du Plessis het gesê die sukses behoort nie net aan die klub nie, maar aan die hele Dysselsdorp-gemeenskap. Hy het die plaaslike sakegemeenskap ook aangemoedig om die klub finansieel en prakties te ondersteun terwyl hulle hul strewe na bevordering voortsit.
Met die SAFA Eden Hollywoodbets Streeks Liga-titel reeds ingepalm, berei Moonlight FC hulle nou voor om Dysselsdorp op provinsiale vlak te verteenwoordig en die volgende stap in hul sokkerreis te neem. (Deur GRANWILLE GOLIATH, Die Hoorn)