Moonlight-sokkerklub van Dysselsdorp Wen SAFA Eden Nedbank-trofee
Die seëvierende Moonlight-sokkerspan.
1/11/2024
Moonlight-sokkerklub van Dysselsdorp het die afgelope naweek die SAFA Eden Nedbank-trofee in Mosselbaai verower deur Seabirds in die eindstryd met strafdoele in bykomende tyd te klop.
Die wedstryd teen Seabirds was uiters mededingend, en Moonlight het met een doel teen nul agtergeloop teen rustyd.
Moonlight het in die tweede helfte sterk teruggeveg en is in die laaste oomblikke van die wedstryd beloon met ’n uitstekende doel deur Brenwill Muggels. Kort na Muggels se doel het die skeidsregter die wedstryd beëindig, waarna strafdoele afgeneem is om die wenner te bepaal.
Jayden Bernadus, Moonlight se doelwagter, het ’n strafdoel gekeer en Seabirds het een misgeskop. Moonlight het vier suksesvolle strafskoppe behaal en net een misgeskop, wat hulle die oorwinning besorg het.
Met hierdie oorwinning dring Moonlight nou deur na die provinsiale uitspeelrondtes van die Nedbank Cup, wat binnekort in Kaapstad plaasvind.
Keanan du Plessis, voorsitter van Moonlight, het ná die wedstryd gesê hy is trots op sy jong spelers se prestasie onder uitdagende omstandighede.
“Hul “never say die”-houding tot die bittereinde is die rede hoekom ons hierdie trofee kan lig. Ons doen nou ‘n beroep op die gemeenskap om ons by te staan met donasies vir ons reis na Kaapstad.”
Vir enige verdere inligting, kontak Du Plessis by 061 970 5077 of stuur ’n e-pos na moonlightfootballclub@gmail.com. (Deur Wyndham Ewerts, Oudtshoorn Courant)