Onstuitbare Oudtshoorn-rugbyklub met 7 oorwinnings
Marthinus Hendricks van die Oudtshoorn-rugbyklub op die aanval. Foto: Verskaf
15/06/2024
Die Oudtshoorn-rugbyklub het die afgelope naweek sy sewende oorwinning van die seisoen behaal deur Haarlem Swings in ‘n SWD Eerste Liga B Oos-wedstryd met ‘n telling van 31 – 22 te verslaan.
Swings was ‘n taai teenstander voor hul tuisskare en het teen rustyd met 22 – 17 voorgeloop. Die Volstruise het egter in die tweede helfte na ‘n hoër rat oorgeskakel en nie toegelaat dat Swings enige verdere punte aanteken nie.
Oudtshoorn se drieë is gedruk deur Anru Tolken en Jean Rossouw, terwyl Merthen Goliath twee keer agter die pale gaan kuier het. Delaud Baartman was suksesvol met vier doelskoppe en een strafskop.
Oudtshoorn se B-span het ook gewen met ‘n telling van 20 – 19. Marthinus Hendricks het in die laaste beweging van die wedstryd ‘n drie vir die besoekers gedruk, wat die oorwinning verseker het.
Hendricks het ook een drie gedruk en ‘n strafskop aangeteken. Christopher Jaars het die ander twee drieë gedruk. Die volgende wedstryd vir Oudtshoorn is op 14 Junie teen Willowmore by die Oudtshoorn-sportterrein.
(Deur: Wyndham Ewerts, Oudtshoorn Courant)