Oudtshoorn Domino-liga 2026 Skop Af
Oudtshoorn Domino-liga. Foto verskaf.
05/06/2026
Die Oudtshoorn Domino-liga het op Sondag, 31 Mei 2026, amptelik afgeskop met 12 klubs wat vanjaar aan die kompetisie deelneem. Reeds in die openingsronde was dit duidelik dat ondersteuners kan uitsien na ’n seisoen van strawwe mededinging en domino’s wat op ’n hoë standaard gespeel word.
Van die eerste wedstryde af het die spanne getoon dat hulle goed voorberei het vir die nuwe seisoen. Die verdedigende kampioene, Lazers, is tot die uiterste gedwing om hul eerste oorwinning van die veldtog te beklink.
Mighty Warriors het die kampioene hard beproef, maar Lazers het uiteindelik ’n naelbyt-oorwinning van 66-65 behaal.
Vikings het ook sterk begin met ’n 66-62 oorwinning oor Smartie Town Giant in ’n wedstryd waar beide spanne deurgaans onder druk gebly het. Rottweilers het op hul beurt met 67-63 teen Eagles geseëvier ná ’n lang stryd waar die uitslag lank onseker gebly het.
Challengers het een van die grootste oorwinnings van die openingsronde aangeteken deur Rebels met 77-54 te klop. Golden Stars het hul seisoen positief begin met ’n 70-59 oorwinning oor Tornados, terwyl Duduza uitstekende vorm getoon het met ’n 79-53 sege oor Neppon.
Betrokkenes by die liga meen die openingswedstryde het bevestig dat al die deelnemende klubs hard gewerk het om hul spelpeil en domino-tegniek te verbeter.
Die klein wenmarges en hoë gehalte van spel in verskeie wedstryde dui daarop dat die stryd om die ligatitel vanjaar besonder mededingend gaan wees.
Met nog baie wedstryde wat voorlê, lyk dit reeds of die 2026-seisoen een van die mees opwindende in die geskiedenis van die Oudtshoorn Domino-liga kan wees.
Indien die openingsronde enige aanduiding is, kan ondersteuners hulle voorberei op ’n seisoen vol dramatiese ontmoetings en onverwagse uitslae voordat die kampioen later vanjaar gekroon word. (Deur GRANWILLE GOLIATH, Die Hoorn)