Oudtshoorn Infanterieskool Vier Mandeladag met Sokkertoernooi

Desiree Malewa - sokker-toernooi

Tweede van links is Desiree Malewa saam met een van die spanne wat deelgeneem het. Foto verskaf

31/07/2024

Die Oudtshoorn Infanterieskool het verlede naweek kinders by sy basis verwelkom om Mandeladag te vier deur ‘n sokkertoernooi te reël.

Desiree Mawela, die regsbeampte, het uitgelig dat die bevelvoerder en verskeie personeellede, insluitend rekrute van die Oudtshoorn Infanterieskool se vaardigheidsontwikkelingsentrum, ywerig gewerk het om te verseker dat die sokkertoernooi ‘n dawerende sukses was.

“Kinders van personeel van die Infanterieskool, sowel as kinders van Rosevalley het die dag meegemaak. Ons het sokker met die kinders gespeel en almal het sommer vinnig vriende gemaak. Ons het begin deur eers die kinders in te lig waaroor die dag gaan en wie Nelson Mandela was.”

Volgens haar was die kinders wat deel geneem het tussen 7 en 15 jaar oud.

Rekrute van die Militêre Vaardigheidsontwikkelingsentrum het inspirerende toesprake gelewer en het tydens die sokkertoernooi by die Oudtshoorn Infanterieskool gedien as noodhulp-reaksies, skeidsregters en lynregters op die veld.

Alpha FC Oudtshoorn is as die algehele wenners van die dag aangewys.

Na afloop van die sokkertoernooi is spanne met unieke toekennings oorhandig wat spesifiek vir hierdie geleentheid geskep is.

Die res van die uitslae was as volg:

  • o/11: Alpha FC Oudtshoorn wen Universal Stars 2 – 0.
  • o/13: Alpha FC Oudtshoorn wen Arsenal 2 – 0.
  • o/15: Alpha FC Oudtshoorn wen Arsenal FC 5 – 0

Mawela het ook haar dank teenoor Nadine Hughes uitgespreek vir haar bydrae tot die dag en die toekennings wat sy gemaak het.

Die afrigters van die onderskeie spanne verdien waardering vir die moeite wat hulle doen om die kinders van die strate af te hou en nuwe vaardighede aan hulle oor te dra.

(Deur Liezl van Niekerk, Oudtshoorn Courant)