Oudtshoorn-legendes vereer vir hul uitmuntende sportbydraes

Jason-Jaftha-Johann-Coetzer-Oudtshoorn-legendes

Jason Jaftha en Johann Coetzer. Foto verskaf

10/10/2025

Die Eden-sportraad het op Saterdag, 27 September, ’n spesiale erkenningsgeleentheid in Mosselbaai aangebied om plaaslike sportlegendes te vereer wat deur hul toewyding en uitnemendheid ’n blywende bydrae tot die streek se sporterfenis gelewer het.

Volgens die sportraad is die doel van hierdie inisiatief om sportpersoonlikhede te erken en te vier terwyl hulle steeds die geleentheid het om dit self te beleef. Oudtshoorn se eie sportlegendes is ook tydens die byeenkoms vereer vir hul waardevolle bydraes oor die jare heen.

Die volgende Oudtshoorn-legendes is vereer:

Willie Freeks (Rugby en Padhardloop)

Freeks het vir die Perseverance-rugbyklub in Oudtshoorn gespeel en later op die klubkomitee gedien. Hy was ook ’n lid van die SWD-skeidsregterskomitee en het as SARU-skeidsregter en SWD-verteenwoordiger opgetree. Boonop was hy ’n toegewyde marathonatleet.

Johann Coetzer (Atletiek)

Coetzer het sedert 1999 deelgeneem aan SWD- en Suid-Afrikaanse meesterskampioenskappe en het reeds 101 medaljes verower, waarvan 66 goud is. In 2023 het hy silwer gewen by die Afrika Meesters Ope. Hy het Suid-Afrikaanse kleure in 2020 en 2025 verwerf vir verspring en hoogspring en dien tans as afrigter vir jong atlete, onder andere vir Jason Jafta.

Jason Jafta (Padwedlope)

Jafta se sportloopbaan strek oor meer as vier dekades met meer as 500 marathons agter sy naam. Hy het 32 Comrades-marathons voltooi en verskeie medaljes, waaronder brons-, Bill Rowan- en Robert Mtshali-toekennings, verower. Jafta het reeds goud gewen by Suid-Afrikaanse meesterskampioenskappe en selfs die uitdagende Washie Ultra-marathon van 160 km voltooi.

Carlos Biljohn (Krieket)

Biljohn se betrokkenheid by sport het in 1977 begin. Ná sy terugkeer na Oudtshoorn in 1984 het hy by die Western Hope-krieketklub aangesluit en oor baie jare as speler, skeidsregter, afrigter en administrateur ’n groot rol gespeel. Hy het op die SWD-krieketraad se uitvoerende komitee gedien tussen 1999–2003 en 2006–2010 en beklee tans die pos van erepresident van Western Hope.

Delia Botha (Netbal en Atletiek)

Botha het uitgestaan in beide netbal en atletiek en haar passie vir sport oorgedra aan jong sportvroue en -manne. Haar toewyding het ’n betekenisvolle rol gespeel in die bevordering van vrouesport in die streek.

Manie Olivier (Krieket)

Alhoewel Olivier nie die geleentheid kon bywoon nie, is hy vereer vir sy jarelange bydrae tot die ontwikkeling en bevordering van krieket.

(Deur Oudtshoorn Courant)