Oudtshoorn-rugbyklub se eerste span behaal oortuigende oorwinning

Oudtshoorn-rugbyklub

Oudtshoorn-rugbyklub se eerste span behaal oortuigende oorwinning.

14/08/2026

Oudtshoorn-rugbyklub se eerste span het Saterdag ’n indrukwekkende oorwinning behaal toe hulle die All Blacks met 43 – 11 geklop het. Die span het sterk vertoon en die wedstryd met ’n oortuigende vertoning in hul guns beslis.

In die wedstryd tussen die tweede spanne was die stryd aansienlik meer mededingend. Die All Blacks het uiteindelik met 19 – 16 geseëvier. Die derde spanne het ook sake uitgespook, met die All Blacks wat met 16 – 7 as wenners uit die stryd getree het.

Volgens Harry Coetzee, hoofafrigter van Oudtshoorn, is die span se volgende twee wedstryde van groot belang vir hul liga-aspirasies.

“Ons speel die naweek teen Eagle Stars en die volgende naweek teen Riversdal Blues. Dit is bepalende wedstryde wat ons van die Challenger Cup-liga na die Premierliga kan neem,” het Coetzee gesê.

Die oorwinning teen die All Blacks gee Oudtshoorn se eerste span waardevolle momentum voor dié twee belangrike kragmetings. Die klub het die spelers gelukgewens met hul vertoning en die afrigters, bestuur en ondersteuners bedank vir hul volgehoue ondersteuning. (Deur Liezl van Niekerk, Oudtshoorn Courant)