Oudtshoorn sportfees 2025

Oudtshoorn sportfees 2025

Verteenwoordigers van sportkodes van die Oudtshoorn sportfees 2025. Foto:  Tania Steffens

13/06/2025

Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, raadsheer Johan Allers, het op Dinsdag, 12 Junie, die Oudtshoorn Sportfees tydens ’n funksie by Route62 amptelik aangekondig.

Tydens sy toespraak het hy die belangrike rol wat sport in Oudtshoorn se plaaslike ekonomie speel, uitgelig. Hy het beklemtoon dat die reeks sportgeleenthede wat vanaf Donderdag 13 Junie tot Saterdag 19 Julie plaasvind, bykomende werksgeleenthede vir die dorp skep.

Burgemeester Allers het ook sy dank uitgespreek teenoor die organiseerders van die onderskeie sportkodes, plaaslike amptenare, en die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport vir hul bydrae tot die bevordering van Oudtshoorn as ‘n gewilde sportbestemming.

Jean Neethling van die Departement van Kultuursake en Sport het bevestig dat die Tuinroete en Klein Karoo befondsing van die provinsiale regering ontvang vir vyf belangrike sportgeleenthede – waarvan die Oudtshoorn Sportfees een is.

Die sportfees skop af met die o.13 Craven-week rugbytoernooi by Hoërskool Oudtshoorn op 13 en 14 Junie. Op 21 Junie volg die inheemse spele by die De Jager sportkompleks. Op 28 Junie vind die ope veerpyltjietoernooi by die Country Club plaas, en ’n domino-kompetisie word by die Thusongsentrum aangebied.

Oudtshoorn sal ook gasheer wees vir die nasionale trompoppiekampioenskappe op 4 en 12 Julie, asook die nasionale ovaalbaankampioenskappe en interprovinsiale rolbalkampioenskappe op die naweek van 12 Julie. Terselfdertyd vind die OLFA Top-agt sokkertoernooi in Dysselsdorp plaas.

Van 15 tot 17 Julie word die nasionale jeugfietsry-kampioenskappe in die dorp aangebied. Die sportfees sluit af op 18 en 19 Julie met die provinsiale tuimel- en trampolien-gimnastiekkompetisie by die De Jager sportkompleks.

Inwoners en besoekers word aangemoedig om hierdie sportgeleenthede by te woon en ondersteuning te bied. (Deur Hannes Visser, Die Hoorn)