Oudtshoorn-sportfees 2026

Oudtshoorn-sportfees 2026

Oudtshoorn-sportfees 2026.
n Tjek van R100 000 is tydens die bekendstelling van die 16de Oudtshoorn-sportfees aan die Oudtshoorn-munisipaliteit oorhandig.

12/06/2026

Die 16de Oudtshoorn-sportfees is Donderdagaand, 28 Mei, tydens ’n spesiale funksie by Route 62 amptelik aan rolspelers bekendgestel.

Jean Neethling van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport het by die geleentheid ’n tjek van R100 000 aan die Oudtshoorn-munisipaliteit oorhandig ter ondersteuning van die fees, wat van 12 Junie tot 1 Augustus plaasvind.

Die sportfees is deel van die munisipaliteit se voortgesette pogings om sportontwikkeling, gemeenskapsamehorigheid en plaaslike ekonomiese groei te bevorder.

Oudtshoorn-burgemeester, Zoe Mziwoxolo Tyatya, het in sy toespraak gesê die sportfees lewer ’n betekenisvolle ekonomiese en toerisme-inspuiting vir Oudtshoorn.

“Ons is trots om al die klubs, afrigters, atlete en toeskouers by die fees te verwelkom. Sport bou verhoudings, bevorder ‘n gesonde leefstyl en moedig goeie sportmanskap aan,” het hy gesê.

Tyatya het ook beklemtoon dat die sportfees een van die hoogtepunte op Oudtshoorn se sportkalender is. Vanjaar sal ’n wye verskeidenheid sportkodes deel van die fees wees, waaronder rugby, veerpyltjies, skopboks, domino’s, sokker, motorwedrenne, basketbal, fietsry en rolbal. (Louise Mouton, Oudtshoorn Courant)

Oudtshoorn-sportfeesprogram 2026:

12 – 13 Junie

Suidelike provinsies-rugbytoernooi en o. 13 Cravenweek by Langenhoven Gimnasium

20 Junie

Oudtshoorn-veerpyltjies se provinsiale kompetisie by die Oudtshoorn-skouterrein.

27 Junie

Eden-skopbokskampioenskappe by die De Jager-sportkompleks.

27 Junie

Domino’s-kompetisie by die Thusong-sentrum.

4 Julie

OLFA o. 17-sokkertoernooi in Dysselsdorp.

11 Julie

Nasionale RGR Klein-Karoo-ovaalbaan-kampioenskappe by die Arnold de Jager-ovaalbaan buite Oudtshoorn.

11 – 12 Julie

Distriksbasketbal by die Bridgton-basket-balbane.

15 – 17 Julie

SA nasionale jeugfietsrykampioenskappe in Oudtshoorn.

31 Julie – 1 Augustus

Interprovinasiale rolbalkamipoenskappe.