Padel kom na Oudtshoorn
Bo: Cobus Diepraam (onder voorsitter, Wesbank Tennisklub) Ilse van der Westhuizen, Yolandi van der Westhuizen en Jacques de Beer (Voorsitter, Wesbank Tennisklub), staan op die grond waar Oudtshoorn se twee Padelbane eersdaags gebou gaan word, by die Wesbank Tennisklub. Foto verskaf.
8/08/2025
Oudtshoorn kry binnekort sy eie Padel-bane — ‘n opwindende toevoeging tot die dorp se sportaanbod. Twee bane word tans gebou by die Wesbank Tennisklub, geleë op die hoek van Buitekant- en Kerkstraat. Die bouprojek behoort teen middel Oktober voltooi te wees.
Padel is ‘n raketsport wat ooreenkomste toon met tennis, maar op ‘n kleiner baan gespeel word. Die spel kan as dubbel- of enkelspel gespeel word, met puntetelling soortgelyk aan tennis. Wat Padel onderskei, is die gebruik van soliede rakette met gaatjies in plaas van gesnaarde rakette, en die feit dat balle, soos met muurbal, van die mure af gespeel mag word.
Die sport het ontstaan in Mexiko en het teen 2023 reeds meer as 25 miljoen spelers wêreldwyd in 90 lande gehad.
Volgens Jacques de Beer, voorsitter van die Wesbank Tennisklub, bring hierdie ontwikkeling groot opwinding vir die klub en die dorp: “Ons sien baie uit na die nuwe Padelbane en die geleenthede wat dit vir ons gemeenskap gaan meebring. Daar is verskeie nuwe, opwindende verwikkelinge op pad.”
Vir verdere inligting kan belangstellendes Yolandi van der Westhuizen kontak by 083 380 7210. (ANGELIQUE ERASMUS, DIE HOORN)