Rugbyhelde besoek Oudtshoorn vir Wesbank-pawiljoen

Vlok-Cilliers-skopkliniek-Laerskool-Wesbank-Oudtshoorn

Ongeveer 30 leerders van verskeie hoër- en laerskole het Vrydagmiddag ’n gespesialiseerde skopkliniek bygewoon, aangebied deur die bekende rugbypersoonlikheid Vlok Cilliers, op Laerskool Wesbank se rugbyveld. Foto Esti-Mari de Jager.

15/08/2025

Drie bekende figure in die rugbywêreld het Vrydag, 8 Augustus, Oudtshoorn besoek as deel van ’n fondsinsamelingsprojek vir die bou van ’n nuwe pawiljoen by Laerskool Wesbank se rugbyveld. Die gaste was Vlok Cilliers, Helgard Müller en Richardt Strauss, wat saam aan die Rugby Aan Tafel – funksie by The Black Swan Restaurant deelgeneem het.

Voor die aandfunksie het Cilliers ’n intensiewe skopkliniek vir sowat 30 belowende jong rugbyspelers uit die omgewing aangebied. Die sessie het om 15:00 op Wesbank se rugbyveld afgeskop en spelers van Langenhoven Gimnasium, Hoërskool Oudtshoorn, Bridgton Sekondêre Skool, Hoërskool Calitzdorp, Laerskool Wesbank en De Villiers Primêre Skool het deelgeneem. Cilliers, wat al vir Springbok-skoppers soos Morné Steyn en Handré Pollard afrigting gegee het, het waardevolle tegniese wenke gedeel om spelers se vaardighede te verbeter.

Die aandfunksie was reeds vroeg in die week uitverkoop, met al 100 beskikbare plekke bespreek. Kalbas Nell het die gesprek met die drie rugbygroepe gelei en interessante staaltjies en feite ontlok. Müller het dikwels vir ligte oomblikke gesorg, terwyl gaste ook geleentheid gekry het om vrae te stel. Op die vraag aan Cilliers, wat tans in Frankryk afrig, oor watter land vir hom die mooiste is, het hy sonder huiwering “Suid-Afrika” geantwoord.

Verskeie items is tydens die funksie opgeveil, insluitend ’n getekende hemp deur Bakkies Botha, getekende rugbyballe, Karusa-wyn, ’n uitstappie na Cango Wildlife Ranch, ’n volbladadvertensie in Die Hoorn, ’n jagpakket van Chandelier Game Lodge, twee nagte by Klein Karoo Game Lodge, ’n meerkatervaring by Africamps, en ander pryse. Die hoogtepunt van die veiling was John Smit se toetstrui wat hy tydens sy 102de Springbok-toets in Bloemfontein gedra het.

Volgens Waldo Cloete, hoof van Laerskool Wesbank, het die funksie ’n waardevolle bydrae gelewer tot hul fondsinsameling vir die pawiljoen. Die organiseerders het hul borge bedank vir hul ruim bydraes en ondersteuning tydens die geleentheid. Hulle is: Karusa Wyne, The Black Swan Restaurant, Buffelsdrift Game Lodge, SA Rugby Legends, De Rustica Olive Estate, Die Hoorn Koerant, Chandelier Game Lodge, Surval Olive Estate Boutique Hotel, Wilgewandel Vakansieplaas, Klein Karoo Game Lodge, Cape Karoo International, South Cape Wireless as hoofborg, AfriCamps, Badenhorst Slaghuis en Oudtshoorn & De Rust Toerisme Buro. (DEUR ANGELIQUE ERASMUS, DIE HOORN)