SA Jeugpadfietskampioenskap: Oudtshoorn Vestig Homself as Gewilde Gasheer

Fietsry-kriterium-SA- Jeugpadfietskampioenskap-Oudtshoorn.jpg

Die o.17 groep se finale rondte van die kriteriumtoets. Die sirkelroete wat hulle gery het was vanaf die VGK Kerk in Bonteboklaan, anti-kloksgewys na 5de Laan, Springbokweg en Zebraweg. Foto: Lindi Brill

11/10/2024

Die SA Jeugpadfietskampioenskap het van 27 tot 29 September in Oudtshoorn plaasgevind. Eden Fietsry het hierdie kampioenskap suksesvol aangebied, wat Oudtshoorn as ‘n gewilde bestemming vir hierdie geleentheid bevestig het. Die kompetisie het drie afdelings ingesluit: ‘n individuele tydtoets, ‘n padresies en ‘n kriteriumtoets. Die kriteriumtoets het op Vrydag by die VGK in Bridgton plaasgevind, met ‘n roete deur die strate wat aan die plaaslike gemeenskap die geleentheid gebied het om as toeskouers die aksie te geniet.

Die individuele tydtoetse en padresies het in Schoemanshoek plaasgevind, met die eindpunt by Cango’s Rest.

Quondisa Ngwenya, president van SA Fietsry, het Eden Fietsry bedank vir hul noukeurige beplanning van hierdie belangrike geleentheid. “Oudtshoorn is bekend vir sy gasvryheid en het ’n trotse geskiedenis van suksesvolle aanbieding van verskeie nasionale elite- en jeugfietsry-kampioenskappe.”

Dit was die agtste SA kampioenskap wat deur Eden Fietsry in Oudtshoorn aangebied is. Hierdie gebeurtenis is een van die gewildste op die fietsrykalender en lok jaarliks talle deelnemers. Volgens Corné Bence, president van die Wes-Kaapse Fietsry Assosiasie, het hierdie jaar se kampioenskap ongeveer 1 400 mense na Oudtshoorn gelok. “Ons is baie trots op die sukses van die kampioenskap.”

Bence het ook erkenning gegee aan die verkeerspersoneel wat ‘n groot rol gespeel het in die veiligheid van die deelnemers. Hy het die munisipaliteit, die departement van sport en kultuur, asook verskeie borge en ondersteuners, waaronder die Kango-grotte, Wilgewandel en die Nasionale Loteryefonds, bedank vir hul bydraes tot die sukses van die geleentheid.

Die Wes-Kaapse fietsryspan het met 403 punte vir die derde agtereenvolgende jaar as die beste provinsiale span geëindig. Gauteng het die tweede plek behaal met 203 punte, en die Oos-Kaap het in die derde plek geëindig met 158 punte. (Dear Die Hoorn, Lindi Brill)

SA-Jeugpadfietskampioenskap-padwedren- se-wenners

Die o.17-seuns 52 km-padwedren se wenners: Joshua Paul (middel) van KZN was 1ste met ’n tyd van 01:32:14, 2de plek was Deon Woolley (links) van die Wes-Kaap met 01:32:15 en 3de was Daniel le Roux (regs) met ’n tyd van 01:32:19 ook van die Wes-Kaap, saam met Leon Champer, Oudtshoorn Raadslid. Foto: Verskaf