SA Tweekampkampioenskappe 2025 in Oudtshoorn

Tweekampatlete maak gereed om weg te spring by die Oudtshoorn tartanbaan tydens die eerste deel van die tweekamp. Foto verskaf
21/03/2025
Die 48ste SA Tweekampkampioenskappe vind op Vrydag 21 Maart en Saterdag 22 Maart in Oudtshoorn plaas en het 913 inskrywings van 14 streke regoor Suid-Afrika ontvang.
Ongeveer 80 beamptes is vir die byeenkoms aangewys, en met van die land se top tweekampatlete wat deelneem, word daar verwag dat verskeie rekords verbeter kan word. Die gala-funksie, wat Saterdagaand by Highgate Volstruisplaas gehou word, sal na verwagting byna 1 150 gaste ontvang.
Jakhals Events Management is verantwoordelik vir die aktivering van die byeenkoms. Die amptelike openingseremonie vind Vrydagmiddag plaas, waar die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, besoekers sal verwelkom. Johan Ferreira, bekende omroeper van Bok Radio, sal as aankondiger optree.
Eden Tweekamp tree as gasheerprovinsie op en word ondersteun deur die Wes-Kaapse Tweekamp Forum, bestaande uit Eden, Boland en WP, om hierdie prestige byeenkoms te organiseer.
Die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en SimCash is vanjaar se drie hoofborge. Hul ondersteuning, saam met dié van verskeie sekondêre borge, maak hierdie grootskaalse sportgeleentheid moontlik.
Volgens Dave van der Walt, wat al vir jare by tweekamp betrokke is, bring die kampioenskappe ‘n geskatte ekonomiese inspuiting van sowat R7 miljoen vir Oudtshoorn. (Deur Die Hoorn)