SA Tweekampkampioenskappe 2026 skop af in Oudtshoorn

SA-Tweekampkampioenskappe-2026-Oudtshoorn

Die swemgedeelte van tweekamp.

20/03/2026

Oudtshoorn berei tans voor vir die aanbieding van die 49ste SA tweekampkampioenskappe, wat op 21 Maart by die De Jager-sportkompleks en NA Smit-swembad sal plaasvind.

Volgens Dave van der Walt sal 862 van die land se voorste tweekampatlete aan die byeenkoms deelneem en meeding vir podiumplekke en beste tye. Dit is die vierde keer dat Oudtshoorn as gasheer optree. Ná vyf Suid-Afrikaanse rekords wat in 2025 tydens die kampioenskappe hier verbeter is, versterk die dorp sy posisie as voorkeurbestemming vir nasionale sportbyeenkomste.

Na verwagting sal tussen 3 000 en 4 000 toeskouers die geleentheid bywoon, met ’n geskatte ekonomiese bydrae van ongeveer R10 miljoen tot die plaaslike ekonomie.

Die deelnemersveld sluit verskeie van Suid-Afrika se voorste tweekampatlete in, onder andere Johan Windt, Pierre Spies, Judah Spies, Marsel Roos, Cornel Kruger, Keyla Douglas, Jeandre Swanepoel, Inaya Mouchilli, Mia Schellink en Eli Kannemeyer.

Benewens individuele prestasies, word die land se toptweekampskole ook tydens die kampioenskap aangewys. In 2025 het die Eden-streek sterk vertoon, met Laerskool Outeniqua wat tweede geëindig het en Hoërskool Punt wat ’n bronsmedalje behaal het.

SA Tweekampkampioenskappe 2026 Program

Die verrigtinge begin Vrydag, 20 Maart, met die amptelike opening om 16:00 op die atletiekbaan by die De Jager-sportkompleks. Vooraf vind die spanbestuurdersvergadering om 12:00 plaas, gevolg deur amptelike spanfoto’s vanaf 13:00 en die verbymars van die 14 provinsiale spanne. Daarna woon genooide gaste die presidentsfunksie by.

Saterdag se program begin om 07:00, met opwarming vanaf 06:30. Swemitems vind om 10:00 en weer om 13:30 plaas. Die dag word afgesluit met ’n galafunksie om 19:00 by Highgate-volstruisplaas, waar pryse oorhandig sal word. Meer as 1 000 gaste het reeds hul bywoning bevestig.

Ongeveer 140 beamptes van regoor Suid-Afrika is betrokke om die gladde verloop van die byeenkoms te verseker.

Gaste

Verskeie hoogwaardigheidsbekleërs sal die opening bywoon, insluitend die waarnemende burgemeester, Zoë Tyatya, Desmond Speelman (voorsitter van die Eden-sportraad), Jean Neethling (distriksbestuurder van die departement sport en kultuur) en Gerhard Louwrens, president van SA tweekamp, asook provinsiale verteenwoordigers, borge en ander eregaste.

Daar is reeds bevestig dat Oudtshoorn en Eden-tweekamp ook die 50ste SA tweekampkampioenskappe in 2027 sal aanbied. (Deur Louise Mouton, Oudtshoorn Courant)