Splinternuwe krieketnette geopen in Dysselsdorp

Minister Ricardo Mackenzie - Oudtshoorn-burgemeester Johan Allers

Minister Ricardo Mackenzie en die Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers. Foto: Louise Mouton

11/04/2025

Dysselsdorp beskik nou oor nuut opgegradeerde krieketnette wat op Woensdag 3 April 2024 amptelik geopen is deur die Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake, Ricardo Mackenzie, en die burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers.

Jean Neetling, bestuurder van die sport- en ontspanningskantoor vir die Eden-distrik, het gaste tydens die geleentheid verwelkom. Advokaat Michelle Weyers het daarna ’n kort toespraak gelewer, waarna die amptelike opening plaasgevind het.

Minister Mackenzie het tydens sy toespraak die belang van instandhouding van sportinfrastruktuur beklemtoon. Hy het verwys na die negatiewe impak van vandalisme op sportvelde en toerusting, en die rol wat gemeenskappe speel in die beskerming van sulke fasiliteite. Volgens hom begin gemeenskapsbetrokkenheid en trots by sport en die fasiliteite wat dit moontlik maak.

Mackenzie het verder verduidelik dat sportfasiliteite soos dié in Dysselsdorp belangrike geleenthede skep vir jong spelers om hul talente te ontwikkel en moontlik op nasionale vlak mee te ding – selfs tot by die Proteas. (Deur Louise Mouton, Oudtshoorn Courant)