Steun Oudtshoorn Sport Inisiatief – Help bou ’n beter sporttoekoms

NA Smit-swembad, Oudtshoorn
Die pawiljoen by die NA Smit swembad wat van ’n dak voorsien moet word. Foto verskaf
14/02/2025
Die Oudtshoorn Sport Inisiatief (OSI) het ’n projek van stapel gestuur om die pawiljoen by die NA Smit-swembad van ’n dak te voorsien en elektroniese tydtoerusting vir die De Jager-atletiekbaan aan te skaf.
OSI is meer as ’n jaar gelede gestig met die doel om sportontwikkeling in die Groter Oudtshoorn-gebied te bevorder en samewerking tussen verskillende sportkodes te versterk.
Een van OSI se eerste projekte was die opgradering van die ablusiefasiliteite by die NA Smit-swembad, wat gelei het tot die herinstelling van groot gala- en tweekampbyeenkomste by die lokaal. Die munisipaliteit het onlangs verdere verbeterings aangebring deur nuwe wegspringblokke en elektroniese raakpunte by die swembad te installeer.
Om ’n beter ervaring vir toeskouers te verseker, beplan OSI om ’n stewige en duursame dak oor die pawiljoen op te rig. Tydens die onlangse Highgate-tweekamp is die waterkwaliteit en opgraderings by die swembad goed ontvang, maar die afwesigheid van skaduwee het ’n uitdaging vir toeskouers ingehou.
Volgens Wilma Pienaar van OSI lok Oudtshoorn jaarliks duisende sportliefhebbers, en dit is noodsaaklik dat moderne sportgeriewe beskikbaar is vir atlete.
Om die nodige fondse vir die projek in te samel, het OSI ’n landwye kompetisie, Best of Oudtshoorn, van stapel gestuur. Die doel is om R250 000 vir die dak en ten minste R600 000 vir die elektroniese tydtoerusting vir die atletiekbaan in te samel.
Loterykaartjies kos R250 elk, en die wenner sal ’n sewe-dag-vakansie vir vier persone in die Klein Karoo ter waarde van R70 000 ontvang.
Belangstellendes kan besonderhede en inskrywings op Webtickets vind. Vir verdere navrae kan Wilma Pienaar gekontak word by 060 504 9105. (HANNES VISSER, Die Hoorn)