Suzuki Oudtshoorn sluit aan by Eden-straatmylreeks
Dave van der Walt van die Klein-Karoo Straatmyreeks verwelkom Radie Loubser van Suzuki by die span. Foto: Louise Mouton
07/11/2025
Oudtshoorn Suzuki, ’n afdeling van Klein Karoo Agri, het op Maandag 3 November as voertuigvennoot by die Eden-straatmylreeks aangesluit. Die vennootskap is bevestig deur ’n ooreenkoms tussen Radie Loubser (Oudtshoorn Suzuki-handelaarshoof) en Dave van der Walt van die Klein-Karoo Straatmylreeks. Volgens Van der Walt pas die samewerking goed by die doelwitte van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), aangesien dit die ontwikkeling van die plaaslike atletiekekosisteem ondersteun.
Die vennootskap is aanvanklik vir 2025 vasgestel, maar Loubser het reeds aangedui dat Oudtshoorn Suzuki belangstel om vir ’n langer termyn betrokke te bly. Vanjaar word die 16de Klein-Karoo Straatmyl as deel van ’n reeks van drie wedlope aangebied — op 14 Desember in George, 16 Desember in Oudtshoorn en 18 Desember in Hartenbos. Die reeks sluit ook ’n Gran Prix-kategorie in waar ope-atlete (mans en vroue) punte oor die drie wedlope versamel, waarna die uiteindelike toppresteerders aangewys word.
Die Klein-Karoo Straatmylreeks is een van die grootste straatmylreekse in Suid-Afrika en vorm deel van die jaarlikse kalender vir die land se middelafstandatlete. Bekende Suid-Afrikaanse atlete soos Irvette van Blerk, Elroy Gelant en die huidige rekordhouer Ryan Mphahlele het reeds in hierdie reeks meegeding en ook aan die Olimpiese Spele deelgeneem.
Plaaslike ontwikkeling is ’n belangrike deel van die reeks se fokus. In 2024 het die 17-jarige Thinus Erasmus van Hoërskool Outeniqua die jongste atleet geword om ’n droommyl onder vier minute te hardloop, toe hy die Oudtshoorn-wedloop in 3:57 voltooi het.
Die groeiende gewildheid van die Eden-straatmyl word versterk deurdat meerdere kategorieë aangebied word, met pryse van meer as R60 000 in totaal.
Inskrywings kan aanlyn gedoen word by www.edenmiles.co.za. Verdere inligting oor die reeks is ook op die webtuiste beskikbaar.
Vir navrae kan Dave van der Walt by 082 773 4901 of Hans van der Veen by 083 462 0477 gekontak word. (Deur Louise Mouton,Oudtshoorn Courant)