TIMBERCITY OVERBERG EDEN-TOUTREKKAMPIOENSKAPPE OP HANDE
Een Oudtshoorn Vaardigheidkskool se toutrekspanne in aksie tydens ‘n vorige toernooi. Foto: Wyndham Ewerts
22/02/2024
Die jaarlikse Timbercity Overberg Eden-kampioenskappe vind Saterdag 24 Februarie weer by Oudtshoorn Vaardigheidskool se sportterrein plaas.
Gavin Block, hoof van die Oudtshoorn Vaardigheidskool, asook organiseerder van die toutrekbyeenkoms, sê dat meer as 100 spanne van 35 skole van sover as Robertson kom deelneem.
Die huidige 556 kg-toutrekwêreldkampioen van Hoër Landbouskool Oakdale sal ook in aksie wees.
Block sê dis verblydend dat plaaslike spanne soos die ‘Valkies’ soos Oudtshoorn Vaardigheidskool se toutrekspanne bekendstaan, ook hul stem gereeld dik maak in hul onderskeie afdelings.
Hy was ook vol lof vir spanne soos Laerskool Laurus en Laerskool Wesbank se entoesiasme om konstant goeie spanne in te skryf.
Block is dit eens dat Timbercity se borgskap van die toutrekbyeenkoms die groei van die sport in die provinsie geweldig stimuleer.
Die byeenkoms behoort dus soos vorige jare, weereens ‘n belewenis te wees wat duisende besoekers sal lok.
(Deur: Wyndham Ewerts, Oudtshoorn Courant)