Tornadoes wen 2025 OPL Vlakkiekriekettoernooi in Oudtshoorn

Tornadoes -2025 OPL Vlakkiekriekettoernooi-Oudtshoorn-wenspan

Tornadoes word bekroon met die wenspan-trofee. Foto: Garnett Wicomb

22/08/2025

Die Tornadoes het Sondag in 17de Laan vir die tweede agtereenvolgende jaar as kampioen uitgetree in die 2025 OPL Vlakkiekriekettoernooi. Die span het die Neppon Warriors in die eindstryd met tien lopies geklop, nadat hulle die loot gewen en eerste gekolf het.

Na tien boulbeurte het Tornadoes slegs 43 lopies op die telbord gehad, maar ’n sterk vennootskap tussen Marco Jansen en Johben Barends het die telling na ’n verdienstelike 138/6 gestoot.

Neppon Warriors het ook ’n stadige begin gehad met net 30 lopies ná tien boulbeurte. Kaptein Willem Goliath en Derick Olifant het probeer om die span terug in die wedstryd te bring, maar hulle kon nie die oorwinning verseker nie. Die span is vir 128 lopies uitgeboul, wat Tornadoes die sege met tien lopies besorg het.

Oudtshoorn se burgemeester, Johan Allers, was teenwoordig by die eindstryd. Hy het die organiseerders geloof vir die suksesvolle aanbieding van die toernooi en beklemtoon dat dit ’n belangrike rol speel om die jeug van negatiewe invloede weg te hou. Allers het beide spanne gelukgewens en die publiek aangemoedig om die omgewing netjies te hou.

Die voorsitter van Eden Rainbow Development Projects, die organiseerders van die OPL, Gavin Pietersen, het sy waardering uitgespreek vir die sportmanskap waarmee die eindstryd gespeel is. Hy het Tornadoes gelukgewens met hul oorwinning en die tien deelnemende spanne bedank vir hul bydrae.

Verder het Pietersen die Oudtshoorn-munisipaliteit bedank vir die borg van die wennerstrofee en die Bridgton-rugbyklub vir hul borgskap van die toernooi en die prysgeld vir die wenner. (Deur Garnett Wicomb, Oudtshoorn Courant)