Wes-Kaapse Fietsrykampioenskappe – Oudtshoorn Vier ‘n Suksesvolle Naweek

’n Peleton fietsryers wat die 116 km afstand aandurf. Foto: Drone Master SA
17/01/2025
Fietsryers van regoor die Wes-Kaap het die afgelope Saterdag en Sondag deelgeneem aan die Wes-Kaapse fietsrykampioenskappe, wat in ideale koel weersomstandighede net buite Oudtshoorn aangebied is.
Die tydtoetse, waaraan 105 deelnemers deelgeneem het, is Saterdag gehou. Op Sondag het 242 fietsryers aan die padwedrenne deelgeneem, wat by die Highgate volstruisplaas begin en geëindig het.
Die tydtoetse het oor afstande van 10 km, 15 km en 20 km plaasgevind, terwyl die padwedrenne roetes van 16 km, 39 km, 78 km en 116 km ingesluit het.
Daar was 26 kategorieë vir mans en dames. Volledige uitslae is beskikbaar op Die Hoorn se webwerf by www.diehoorn.com. (Deur Die Hoorn)